koeksisters & braaivleis, lepellê & vry, alles net soos BOERETROOS... slegs in AFRIKAANS te kry!
 

   



WIE & WAT IS BOERETROOS?


Die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) se beskrywing vir die woord  'boeretroos' is:  'Koffie, Afrikanertroos'. Ons assosieer 'boeretroos' met 'n gesellige kuiertjie, saam met vriende, wat vir ons 'troos' bring in die besige lewe waarin ons onsself bevind. Ons hou mos almal daarvan om te kuier in ons taal!


 

Kom ons begin by die "ons":  Ons is Christo & Lara Roux.  Ons woon in Gonubie en het drie kinders, Eckardt, Reinhardt & Ananje.  Dit het ons gepla dat ons nie ons liefde vir ons taal, ons kultuur en Afrikaanse musiek 100% in Oos-Londen kon uitleef nie.  Daar was selde gehalte produksies en vertonings in ons trotse taal, Afrikaans, hier aangebied.  As ons ons gunsteling kunstenaars wou ondersteun, moes ons ver kilometers aflê. Daarvoor het ons moeg geraak en met kinders wat begin skool toe gaan het, was dit nie meer moontlik om gou in die motor te spring en Port Elizabeth of Jeffreysbaai toe te ry  vir 'n vertoning nie.  Maar ons wou graag deel wees van lewendige optredes en daarom het ons toe besluit om kunstenaars na Oos-Londen te nooi en soos hulle gewoonlik sê: Die res is geskiedenis…

 

Sedert 2005 reël en bemark ons Afrikaanse vertonings in Oos-Londen en in ander dorpe in die Oos-Kaap.  Daar is soveel hoogtepunte: ons eerste vertoning, ons eerste uitverkoopte vertoning, ons eerste koerant artikel, die lojaliteit van ons ondersteuners en van die kunstenaars, die vriende wat ons gemaak het en nou ook die opening van ons eie Boeretroos Teater. 

 

Boeretroos Promosies en Die Boeretroos Teater wil nog so baie bereik.  Maar vir nou wil ons net hê dat wanneer julle, elke lid van die publiek en ons getroue ondersteuners, ons koffiepot sien, julle sal uitsien na ons volgende makiti en sal kom saam kuier in ons mooi taal!  Hou altyd aan om TROTS te spog met ons pragtige taal en ketels vol Boeretroosgeluk aan alle ondersteuners van Afrikaanse Musiek & Teater!




Jongste Nuus

Boeretroos se shows!