Boeretroos Promosies en Die Boeretroos Teater kon ons nie aanpak op ons eie nie. Ons is en word gehelp en geseën deur ongelooflike mense op ons pad. Hierdie webtuiste sal dan ook onvolledig wees indien ons nie die volgende bedankings doen nie:
Eerstens begin ons by die heel belangrikste: God ons Hemelse Vader
Oor elke besluit wat ons neem, elke ding wat ons aanpak, vra ons U raad, U antwoord ons en seën ons, DANKIE!
Tweedens ons kinders: Ons is gereeld so besig met die vertonings en nou ook die nuwe teater. Julle word soms afgeskeep, maar ons doen dit ook vir julle! Ons is so lief vir julle en is so trots dat julle net so lief vir musiek en teater is soos ons.
My ma, MIEMIE BARNARD! Sonder haar hulp sou daar seker nooit ‘n Boeretroos Teater gewees het nie. Ma is net ALTYD DAAR en HELP ORAL. Die belangrikste is dat Ma geglo het in ons. Hoe kan ons ooit dankie sê! Mag ons ma trots maak! Ons het ma so lief!
My suster, MARIAAN DU PLESSIS! Dis altyd so lekker om iemand te hê wat net ‘n telefoonoproep ver is om saam met ons te bid en wat in ons glo. Mariaan, jy’s ‘n suster duisend!
ANDREA – voorheen van die Daily Dispatch, maar wat ongelukkig deesdae in London woon. Sy is een uit ‘n miljoen en baie spesiaal. Waar die Engels maar moeilik gegaan het in die begin, het sy gehelp met al ons persverklarings en my geleer om dit deesdae self reg te kry. Sy is ook ‘n vriendin soos min!
SANDRA – WOW! Dis al wat ek kan sê! Jy lag so gereeld saam met my en droog my trane af as ek bang word. Jy is ALTYD beskikbaar. Jy is wonderlik. Ek is so lief vir jou. Jou advies tel so baie! Jou eerlikheid is my gemoedsrus! Lara
SVEN & ETHIENNE - Julle doen 'n ongelooflike werk om Oos-Londen op hoogte te hou van vermaak in ons mooi stad. Boeretroos Promosies wil julle uitsonder, aangesien julle altyd daardie bietjie ekstra, gewoonlik op kort kennisgewing, vir ons doen. Dit word opreg waardeer!
MARIUS – Dankie vir ‘n pragtige nuwe webtuiste! Ons is so opgewonde daaroor en jy het ons met nuwe oë na ons besigheid laat kyk. Dankie vir die lang ure wat jy daaraan spandeer en al daardie ongelooflike veranderinge wat in die pyplyn is. Welkom aan boord by die Boeretroos-familie!
KAREN ELS - Jy is ons linker en ons regter hand. Dankie Karen vir al die ure en ure wat jy in ons teater deurbring. Daar is nie genoeg woorde om dankie te sê vir al jou hulp, advies, idees en grappies nie. Ons kan en wil nie sonder jou nie!
RIA ELS - Duisende dankies vir ure en ure wat jy in die warm kombuis deurbring. Niks is ooit vir jou te veel moeite nie. Daar is nie genoeg woorde om te sê hoe opreg ons alles waardeer wat jy doen nie. Jy is 'n staatmaker soos min!
|